Op 7 Desember het Rooimier die volgende te sê …
Ek kom nou net van die opening van die jaarlikse VSAAV- Atletiekafrigterskursus op Sasolburg af!
HTS Sasolburg se skoolsaal was vol atlete, afrigters en ouers, wat almal gekom het om meer kennis en vaardighede te bekom in hul gekose items! Die nie-amptelike getalle wil aandui dat daar baie naby aan 400 mense teenwoordig was ! EN hulle het van ooral oor gekom – ek het Welkom, Hennenman bussie gesien, daar was mense van Kroonstad, Vanderbijlpark en Porchefstroom …! EN ek was bevoorreg om die dame en haar kinders wat al die pad vanaf Zimbabwe gekom het, te ontmoet!
…oud en jonk, wit en swart, lank en kort, stadig en vinnig – hulle was almal daar!
My hart het van trots vinnig geklop toe Spanjool Wessels [Kursusleier] en Vis Janse van Rensburg [Voorsitter: VSAAV] die mense toegespreek het! In die skare het ek Nanda Barnard [uitstaande hoogspringer van die 80’er jare] en Johan Prinsloo [Voorsitter gedurende die USSASA- jare na 1994 en die person wat weer die Vrystaat Hoërskole vroeg in 2000 verenig het!], Henk Janse van Vuuren [huidige Onder-Voorsitter: Vrystaat Hoërskole Atletiekorganisasie] daar opgemerk het.
Op die verhoog het dit geskitter van die legends tot by die jonger afrigters, wat hul tyd, kennis en ervaring vir ‘n paar dae as Hoofafrigters, beskikbaar gestel het: Tertius Liebenberg [Sunet Viljoen], wat al internasionale symposia toegespreek het; Basie Koen [Chris Harmse] , wat in een jaar meer medaljes op nasionale kampioenskappe bymekaar gemaak het as vele ander afrigters in hul hele afrigtersloopbaan reggekry het; Lee van den Berg[Hoogspring] en Elizna Naude [Diskus] , wat albei self/as atlete nasionale kleure verwerf het; die fluitjieman, Wilfred Sebotsa [Middelafstande] was daar en dan die jonger garde, wie se altlete al op provinsiale en nasionale kampioenskappe presteer het: Elizma du Plessis [Gimnasium], Nelis de Kock [Blouskool], Annie Marais [Parys], Charles van Rooyen [Dagbreek] en Leroux Jordaan [HTS Sasolburg]! EN dan was daar die staatmaker-afrigters, wat al verskeie jare bydra tot hierdie kursus se sukses, nl. Wimpie Nel, Corné Wessels, Cornel Muller en André Hatting!
…voorwaar ‘n uitgelese groep atletiekafrigters – nêrens in SA sal jy so ‘n kwaliteit groep mense bymekaar kan bring om onderwysers en ouers te help om die beste vir hul skoolatlete te doen nie! NêRENS!
Dis net jammer dat die “Athletics Free State Federation” die enigste vals noot op hierdie wonderlike geleentheid gesing het met hul onvermoë om die akkreditasie vir ASA- eksamens te laat realiseer!! Dit is die enigste en grootste afrigtings- en ontwikkelingsgeleentheid in die Vrystaat en hulle “join “ nie die “party” nie!
As iemand gedink het atletiek besig is om die kreeftegang te gaan, moet hulle op Sasolburg kom kyk hoe staan die mense in die son en sweet die atleetjies om nuwe tegnieke baas te raak! WONDERLIK.
Geluk VSAAV met hierdie 49ste kursus! Volgende jaar vier ons die 50-jarige fees!! Hoeveel atletiekorganisasie, afrigtingsverenigings en/of sportbeamptes ken u wat 50 jaar gewei het aan die ontwikkeling van die Vrystaat se skole-atlete?
Nag, Oom Paul – ons verlang na jou!!


