PAUL BRANDERS TRUST

Met die naderende demokratiee verkiesing, die feit dat die ANC oënskynlik die sterkste politieke party in SA blyk te wees en a.g.v. al die bangmaakstories, wat die rondte doen, raak die Bestuur van die Vrystaat Atletiekafrigtersvereniging bekommerd oor hul opgehoopte fondse. By die Algemene Jaarvergadering van 1993 word daar besluit om die moontlikheid van ‘n trust te ondersoek.

Hierdie opdrag lei op 23 Junie 1994 na die stigting van die Paul Branders Trust, TMP 2654. Ongelukkig slaag die aansoek om die Trust as ‘n opvoedkundige trust te registreer nie en daarom sal die Trust onderworpe wees aan die betaling van inkomstebelasting, Die Trustees was Paul Branders, Rudolph Cloete, Jic Riesenbeek en Flip van den Berg. Alle fondse van die Afrigtersvereniging word hierin gestort en die verskillende streke se skoleatletiekverenigings [wat ook oor dieselfde ding bekommerd was] word genader vir oortollige fondse.

Die doelstellings van die Trust was om skoleatletiekafrigting in die Vrystaatprovinsie te ondersteun, te bevorder en verder uit te brei.

Op 1 Maart 1995 vergader die Trustees vir die eerste keer en Rudolph Cloete word as die eerste voorsitter en Jic Riesenbeek as die sekretaris, verkies. By hierdie vergadering het die Trust  R60,396 as bate.

Die Trust borg elke jaar die VSAAV se afrigterskursus en -klinieke, dra by tot afrigtersfunksies en bewillig selfs fondse vir ‘n oorsese toer van Vrystaatse skoolatlete en afrigters. Teen 2019 borg die Trust al vir 75 jaar lank die VSAAV se provinsiale afrigtingskursus.

Flip van den Berg bedank die onderwys en verhuis uit die provinsie en Vis van Rensburg word as Trustee in sy plek benoem. Deur verdere skenkings te bekom, asook deur oordeelkundige beleggings aan te gaan, groei die fondse in 21 jaar met meer as 300%.

Gedurende 2000 bereik die Trust sy eerste doelwit toe die R 100,000 kerf bereik word. Deur verdere skenkings te bekom, asook deur oordeelkundige beleggings aan te gaan, groei die fondse totdat R200,000 in 2015 bereik word.

Die stigter van die Trust, Mnr Paul Branders, sterf skielik in Junie 2010 op 83- jarige ouderdom. Mnr Wimpie Lodewyk word as Trustee in sy plek benoem.

Rudolph Cloete tree einde 2012 af by die Onderwysdepartement, maar bly nog aan as Voorsitter van die Trust!

Die Merietefunksie/Assosiasie-debakel in 2017 veroorsaak ‘n vertrouensbreuk tussen Rudolph Cloete en Wimpie Lodewyk. A.g.v bogenoemde debakel bedank Vis van Rensburg en Wimpie Lodewyk in Februarie 2018 as trustees. Die oorblywende twee trustees vergader en besluit om een van die vakante poste te vul: Mnr. Henk Jansen van Vuuren, Onder-Voorsitter van die Vrystaat Hoërskole, word verkies en op 8 Junie 2018 ontvang ons die Trusteebrief vanaf die Meester van die Hooggeregshof.

TRUSTEES

RUDOLPH CLOETE

Rudolph Cloete is in 1952 op Uitenhage gebore.

Hy begin sy skoolloopbaan op Somerset-Oos, maar woon baie skole by a.g.v. sy vader se werk. In 1969 land hy op Ladybrand in die Gedenkkinderhuis, waar hy matrikuleer in 1970. Self neem hy nooit aan Interhoër deel nie!

Rudolph Cloete studeer BA.HOD. aan Kovsies, en dien op die Koshuiskomitee van Huis D.F. Malherbe [“Malhuis”] In sy finale jaar is hy kaptein van Malhuis se eerste rugbyspan, en speel ‘n paar verteenwoordigende wedstryde vir die universiteit. In 1989 behaal hy sy Honneursgraad deur die Vaalpukke.

In 1976 begin hy sy onderwysloopbaan by Hoërskool Sasolburg, waar hy onder die invloed van Sam H. Pellissier en Luame Ludick kom en begin spesialiseer in ver- en driesprongafrigting. In 1981 word hy verkies tot die bestuur van die Vrystaat Skole Atletiekafrigtersvereniging en vorder tot ondervoorsitter [1992 – 1998] van hierdie vereniging. Vanaf 1982 – 1998 is hy die hoofafrigter van ver- en driesprong op die OVSPSAAV se provinsiale kursus. Deur al die jare is Rudolph baie betrokke by die afrigting van atlete. Sy atlete doen baie goed op provinsiale en nasionale vlak: sy atlete hou verskeie Vrystaat en SA rekords in veral driesprong.

In 1990 verhuis Rudolph Cloete na Welkom, waar hy as Adjunkhoof van Welkom-Gimnasium aangestel word. In 1992 word hy Skoolhoof van hierdie bekende atletiekskool. In dieselfde jaar word Rudolph Cloete die eerste Vrystaatse afrigter wat aangewys word as afrigter van die SA Skole Atletiekspan – en verdien hierdeur sy nasionale kleure in atletiekafrigting!

In 1991 word Rudolph Cloete verkies tot Vrystaat Hoërskole-keurder; in 1994 word hy die Sameroeper van die keurders van USSASA Noord-Vrystaat Atletiek, en by die stigting van die nuwe Vrystaat Hoërskole Atletiekvereniging in 2002 word hy weer verkies tot die Sameroeper van die Vrystaat Hoërskole Atletiekkeurderspaneel, ‘n aanstelling wat hy vir die volgende 15 jaar sal beklee!

Gedurende die tyd van USSASA word Rudolph Cloete die eerste NVS President van hierdie multi-kode sportliggaam. Hy bedank in 1998!

In 1993 word die Paul Branders Trust deur die Vrystaat Provinsiale Skole Atletiekafrigtersvereniging gestig en Rudolph Cloete word as die eerste voorsitter van hierdie trust verkies… ‘n posisie wat hy in 2019 nog beklee. In 2005 word Rudolph Cloete ook ‘n trustee van die S.P. Barkhuizentrust, maar bedank na 7 jaar.

Rudolph Cloete gaan aan die einde van 2012, na 21 jaar as Welkom-Gimnasium se skoolhoof, op pensioen en hy en sy vrou, Elbè  besluit om in Welkom aan te bly.   Sy vrou sterf in 2018, maar Rudolph bly nog steeds in Welkom.

JIC RIESENBEEK

Jic Riesenbeek is op 18 Junie 1943 op Zastron gebore. Hy matrikuleer hier en gaan na die UOVS en is ‘n inwoner van Reitzkamerwonings.  Hy behaal die B.Com Hons-graad en ‘n UOD-diploma, maar gaan nie dadelik skoolhou nie.

Hy begin in 1965 by die Dept van Binnelandse Inkomste werk, maar in 1971 kry sy eerste liefde die oorhand en hy begin sy onderwysloopbaan by Hoërskool Hentie Cilliers op Virginia. Hier rig hy die naellope af en vestig hom gou as een van die Vrystaat se beste naelloopafrigters.

Hy kwalifiseer homself d.m.v. die OVSPSAAV en in 1980 word hy die hoofafrigter van naellope op hierdie vereniging se provinsiale kursus! Hierdie werk doen hy vir 18 jaar, onttrek homself tydelik uit die afrigtersvereniging se bedrywighede in 1998, maar keer weer in 2001- 2005 terug as die hoofafrigter by die provinsiale kursusse. In hierdie 25 jaar doen hy ongeveer 150 naweekklinieke dwarsdeur die Vrystaat, Noord-Kaap en Natal.

Jic Riesenbeek tree in 2005 as Departementshoof by Hentie Cilliers af en vestig hom op Virginia.

In sy onderwysloopbaan was Jic nog altyd bereid om ooral sy gewig in te gooi:  tesourier van VSAAV [5 jaar], sekretaris van VSAAV [12 jaar], sekretaris van Paul Branders Trust [15 jaar]. Jic dien ook met onderskeiding op die liggame wat atletiek in sy omgewing bestuur: Onder-voorsitter van die Goudveldse Hoërskole Atletiekvereniging; ondervoorsitter van Noord-Vrystaat Atletiekvereniging; bestuurslid van Vrystaat Hoërskole Atletiekvereniging.

As Spanbestuurder en keurder van die Vrystaat atletiekspan lewer Jic ook waardevolle diens aan die kinders van die Vrystaat! 

HENK JANSEN VAN VUUREN

Henk Jansen van Vuuren is op 16 Maart 1959 in Port Elizabeth gebore. Hier woon hy Laerskool Dagbreek  en Hoërskool Pearson by. Op skool neem Henk aan atletiek (400 / 800m en 400m hekkies), landloop en rugby deel. Hy verteenwoordig sy hoërskool se 1ste rugbyspan  as senter en vleuel!  Na skool gaan hy na die Universiteit van Port Elizabeth en behaal die HOD-diploma in Menslike Bewegingskunde!

In 1983 verhuis die Van Vuurens na Welkom en Henk begin by HTS Welkom. Henk is tans ‘n Adjunk-Hoof van hierdie skool.

Rugby bly ‘n groot liefde vir Henk! Hy verwerf die Vlak 2 IRB Afrigtingsertifikaat in 2011. Hy rig nie net vir 11 jaar (2019) HTS Welkom se 1ste rugbyspan af nie, maar is ook prominent as afrigter en spanbestuurders van verskeie Griffons rugbyspanne na nasionale toernooie. Hy was van 2003-2016 ‘n keurder van die /19 Griffons span.

Henk maak groot naam as Naelloop- en Verspringafrigter in die Vrystaat: Hy sorg elke jaar vir ‘n klompie HTS-seuns in die Vrystaatspanne , wat na SA Kampioenskappe gaan. Henk Jansen van Vuuren blink uit op bestuursvlak: Hy raak in 1994 betrokke by die Goudveld Atletiekbestuur en is die afgelope 18 jaar (2019) die Voorsitter van die nou Lejweleputswa Hoërskole Atletiekbestuur. Hy is ook vanaf 2009 die Onder-Voorsitter van die Vrystaat Hoërskole Atletiekbestuur! Hy is tans ook ‘n keurder van die Vrystaat Hoërskole Atletiekspan.

In 2018 word hy aangestel as ‘n Trustee van die Paul Branderstrust!

Henk se ander liefde is Motorsport, en ook hier vorder hy van deelnemer na die bestuursvlak van hierdie sportsoort: Hy was al WMSK se klubkampioen (1994), WOMSA se Wedrendirekteur (2014) en vanaf 2012 WOMSA se A-Graad Baanmeester. Hy was ook WMSK Voorsitter en Bestuurslid van die WOMSA! In 1994 was Henk die Vrystaat Klas F-kampioen op die langbaan, waar hy met ‘n baanrekord gewen het!

Henk is in 1981 getroud met Christa en hulle het 3 kinders: een seun (Dewald) en 2 dogters (Rae en Corlea)

Vir ontspanning ry Henk en Christa fiets (tandem) en neem elke jaar by die bekende Argus Fietswedren in die Kaap deel.