image_pdfimage_print

Op 21 Januarie 2017 sê Rooimier dat hierdie die dekade van die Ouerafrigter is.

By elke byeenkoms waar ons as skole kom, sien jy die ouers wat self hul kinders afrig. Dit is opmerklik dat die skoolonderwyser-afrigter al hoe minder betrokke is by atletiekafrigting….en Rooimier het begin nuuskierig raak oor hierdie “nuwe” tendens.

Die maklike antwoord is dat die jonger onderwysers nie meer belangstel nie! Die ouer garde sê maklik “Ag, hulle (die jong onderwyser(es)) stel nie belang nie – hulle is lui.” Tog is daar baie voorbeelde van jong opkomende onderwyser-afrigters in die Vrystaat!

Rooimier is van mening dat die rede vir die verskynsel van Ouerafrigters meer kompleks is – en dat daar is eintlik verskeie faktore is wat saamspan om hierdie tendens te skep:

Eerstens, is daar die soort persoon wat deesdae Onderwys toe kom! Praat jy met die ouergarde, sal baie van hulle vir jou sê dat hulle juis kom skoolhou het omdat die betrokkenheid by buitemuurs hulle gelok het. Daarteenoor, hoor mens al hoe meer dat onderwysers weier om by buitemuurs betrokke te raak – en as die Skoolhoof hulle daaroor aanspreek, dan spring die onderskeie vakbonde vinnig in die Skoolhoof se keelgat af!  Deesdae se onderwysers is vakbondmense, wat ‘n 7 ure dag beding het!

Tweedens, is atletiek vandag ‘n spesialis-sportaktiwiteit. Weg is die dae dat die onderwyser (met ‘n bietjie kennis) ‘n goeie atleet kan help ontwikkel en laat vorder tot op nasionale vlak. Die standaard van atletiek vereis gespesialiseerde kennis en baie ervaring van die afrigter. Komponente soos pleometriese kragontwikkeling, energiebronne, dieët, dubbelpiekprogrammering, motivering, ens vereis dat ‘n afrigter aanhoudend iets nuut moet aanleer en sodoende ‘n lewenslange student van sy item moet bly.

Dit is dan veral laasgenoemde wat die teelaarde vir die professionele afrigter geskep het. Veral die townshipskole se leerders, wat sou belangstel in atletiek, soek hul heil by klubs. Die skool help nie meer nie, daarom gaan soek hulle hulp by die professionele afrigter.

En laaste, maar nie die minste nie, is die ontvolking van die platteland … en Rooimier sien dit veral in die Vrystaat. Dit is nie die groot, bekende stadskole wat jaarlikse na die VSAAV se afrigtingskursus in Desembermaand kom nie! Die oorgrote meerderheid kom van die kleiner, plattelandse skool – en dan veral die ouer en sy begaafde kind – van die kleiner, plattelandse skool. Want mens moet nie dink omdat die skole in bv. die Suid-Vrystaatse dorpies agteruit (of toegemaak het) gegaan het, dat die plattelandse kind sy/haar talent skielik verloor het nie!

…en daardie kind se enigste redder is sy ouers, wat altyd hul beste vir hul kind sal probeer gee. Rooimier salueer vandag die ouer wat self sy moue opgerol het om sy kind na hoër hoogtes te neem …of net sy hand in sy sak gesteek het om sy kind na ‘n professionele afrigter aan te ry!

Vir hulle wil Rooimier sê: Die VSAAV is tot u beskikking. Hier is ‘n Vereniging wat u dilemma verstaan. Gaan gerus na http://vsaav.co.za en kyk hoe kan en wil hierdie onderwyserafrigters u help d.m.v. klinieke, kursusse en berigte oor afrigting.

 

Op 21 Januarie sê Rooimier …