Die 2016-atletiekseisoen is besig om einde toe te staan – sowel die primêre skole as die hoërskole se Vrystaatspanne is gekies vir onderskeidelik Port Elizabeth en Bloemfontein!
Maar iets wat hinder, is die verskillende byeenkomsprogramme wat gevolg word:
In die primêre skole is daar sirkels, wat na distrikbyeenkomste lei, dan ‘n “Noord-Vrystaat”-byeenkoms tussen die Lejweleputswa en Fezile Dabi Onderwysdistrikte…hier word nog atlete ge-elimineer! Daarna is die atlete oppad Interprimêr, waar die Vrystaatspan gekies word, toe!!!
In die hoërskolestruktuur is daar ook sirkels en zones en dit lei ook tot distrikbyeenkomste! MAAR hier eindig die eliminasieproses. Na die distrikbyeenkoms gaan die atlete Interhoër, waar die Vrystaatspan gekies word, toe!
Daar bestaan ‘n oorkoepelende struktuur, waar hoërskool- en primêre skole atletiekbesture saam vergader – die sogenaamde “Free State School Athletics Organization”, sommer die Organisasie genoem! Tog verskil die twee skolebesture oor die struktuur, wat in die Vrystaat van toepassing is! Was die idee om ‘n oorkoepelende organisasie nie juis dat dit tot eenvormigheid moes lei nie?
…en hier lê Rooimier se probleem! Die laerskooloutjies wat die meeste tyd aan afrigting moet spandeer, want hulle leer nog verskillende tegnieke aan, het die minste tyd vir afrigting! Hulle het ook die minste tyd vir vrienskaplike byeenkomstes, want na die kleursportbyeenkoms by die skool, is die eerste sirkelbyeenkoms [en eliminasie!] op hulle!!
Verder is hul pad na Vrystaatkleure 100% moeiliker as die meer gevorderde hoërskoolatleet: die laerskoolatleet moet onder die bestes in die Noord-Vrystaat [twee Onderwysdistrikte] kom, terwyl die hoërskoolatleet slegs sy [een] distrikmaats hoef te klop!
So terloops, daar bestaan natuurlik glad nie meer so ‘n struktuur soos Noord-Vrystaat nie! Atletiek in die Vrystaat is sterk gekoppel aan die Vrystaatse Onderwysdepartement en hulle werk net in Onderwysdistrikte, met begrotings, oorhoofse bestuur, “Syrec”-personeel en sportorganisasie!
Bou nou ‘n atletieknasie, wat die klein atleetjies afknou!!!


