Rooimier skryf op 27 Julie …
2016 het soos elke vorige jaar, weer sy kwota sportdwelmonthullings opgelewer! In SA het hierdie euwel hierdie jaar sy kop by provinsiale rugby uitgesteek, maar nou dat die Olimpiese Spele op hande is, is die opkikkergesprekke aan die orde van die dag….en die teiken is die skorsing van die hele Rusiese Olimpiese span!
Die IAAF het al die Rusiese atlete summier geskors, maar die oorkoepelende IOK het ‘n skuiwergat oopgelaat dat elke sportsoort se beheerliggaam hul eie besluit oor die saak mag neem! Ek glo dat die IAAF by hul oorspronklike besluit gaan bly en Rusland verbied om aan die atletiek deel te neem! Dit gaan nie net dat die IAAF ‘n nuwe voorsitter in Sebastiaan Coe het nie, maar dat atletiek al twee baie berugte “vuil” wedlope gehad het: die Mans 100m in Seoel 1988 en Vroue 1500m in London 2012!
By eersgenoemde naelloop het vier van die eerste vyf mans later positief vir verbode middels getoets, met Ben Johnson wat later van sy goue medalje gestoop is. Maar die 1500m was erger met ses van die eerste nege dames, o. a. ook die goue medalje-wenner, wat voor die wedloop of sederdien positief getoets is.
Ons almal weet dat hierdie euwel bestaan, maar ons steek ons kop in die sand en gaan maar rustig voort om ons atlete bloot te stel. Maar u sal nou vir my sê dat u atlete verseker nie steroïdes gebruik nie! Werklik? Wanneer laas het u die Saids lys van verbode middels bestudeer? Weet u watter gewone verkouemedisyne, of pynstillers, is op die lys? Onthou u nog wat het Sharapova gesê toe sy hierdie jaar uitgevang is: “Dit is ‘n nuwe middel en ons het nie geweet dat dit vanaf Januarie op die lys gesit is nie!”
Al ons atlete drink sportaanvullers/”supplements” : hoe weet ons wat alles daarin is? Kan ons werklik die vervaardigers en hul verkoopsmanne glo? Die SA Sportmedisynevereniging [Sasma] se President, dr. Zondi sê:”Daar is bewyse dat sommige potensieel skadelike en verbode bestanddele nie op die etiket aangedui word nie.” [Volksblad, 27 Julie 2016]
Hoe gouer ons, en ons atlete se ouers, besef dat daar geen kortpad na prestasie is nie, hoe beter. ‘n Gesonde diet en harde, eerlike werk is die enige oplossing.


