Op 9 Junie het Rooimier gesê ...


Op 9 Junie het Rooimier gesê …

Hier is ‘n lelike ding wat sy kop uitsteek! Tans is daar ‘n dokument , van ongeveer 200 bladsye, wat deur SASA[SA Skole Atletiek] se strukture bespreek word. Hierdie sogenaamde “Manual” het die potensiaal om die hele skole-atletieksisteem, soos ons hom ken, omver te gooi!

Die “Manual”/Handleiding bespreek primêre en hoërskole se baan en veld [m.a.w. atletiek] sowel as landloop! Tans werk al die verskillende SASA provinsies deur die Handleiding om ‘n voorlegging by ‘n beoogde vergadering later in die jaar, in te dien.

Die Vrystaat het al twee jaar gelede met hierdie werk begin, maar toe was die ander provinsies nog nie reg hiervoor nie! Rooimier verneem dat die Vrystaatse Wimpie Lodewyk, Corlia Havenga, Rudolph Cloete en Willie Roux tans besig is om hul voorleggings van twee jaar gelede, af te stof en by te werk!

Sonder om die kar voor die perde te span, kan ons kennis neem van ‘n paar dinge wat tans in die Handleiding staan: Daar is werklik baie oulike goed in die Handleiding, wat skole en provinsies baie gaan help met die organisasie van ‘n byeenkoms …tegniese dinge, soos pligtestate vir sekere sleutelbeamptes en komitees, wat met vrug gebruik kan word!

MAAR die groot problem is dat die opstellers van die Handleiding ‘n totale nuwe, en tans vreemde, atletieksisteem voorstel! Iets wat ons nog nooit in SA gesien het nie!

Die voorstel in die Handleiding is dat atlete nie meer as indiwidue aan ‘n byeenkoms gaan deelneem nie, maar wel as ‘n lid van ‘n span. Die feit dat die atleet die item wen, is ondergeskik aan die punte wat hy/sy vir die span verdien. Atletiek word dus nou ‘n “match”/wedstryd, waar een span wen en ander verloor. Atlete mag ook nou aan ‘n maksimum van 5 items en aflosse deelneem, maar in die veldnommers word die aantal poging van 6 na 3 verminder.

Rooimier verstaan nie lekker hoe dit gaan werk nie, maar behoort na die beoogde vergadering meer begrip te hê! Al wat ek weet, is dat as die SASA provinsies nie ernstig walgooi nie, SASA maar hul deure kan sluit! As die verandering te radikaal is, voorsien ek dat al die hoërskoolatlete by ASA[Atletiek SA] se sub-jeug, jeug en junior atletiek gaan inskakel! Wat die primêre skole gaan doen, weet ek nie!!