Op 5 April is Rooimier nog ongelukkig oor 2017 SA's


Op 5 April is Rooimier nog ongelukkig met dit wat tydens die SASA SA Hoërskole Atletiekkampioenskap in Durban gebeur het!!

Hierdie was veronderstel om die hoogtepunt van die skoolatleet se atletiekjaar te wees! Die beplanning vir hierdie byeenkoms is al vir meer as ‘n jaar aan die gang!

Maar iemand het Suid-Afrika se skoolatlete lelik in die steek gelaat!!!

Hoe die SASA Bestuur Kingspark Atletiekstadion as ‘n venue kon goedkeur, gaan gesonde verstand te bowe: Toe ons in 2009 laas daar was, het ons op die Sharks se B-veld, agter die pawiljoen, geparkeer. Daar was oorgenoeg plek en buitendien was daar sekuriteit! Nou is hierdie area in ‘n boogskietbaan ontwikkel – en tussen die rugbystadion en die atletiekstadion is daar ook nou ‘n Virgin Active, met sy eie privaat parkeerplek. Dus was daar geen aangewese parkeerplek vir ouers, skoolbussies en groot busse nie! Dit was elke oggend chaos!

Die Moses Mabida Stadion het ondergrondse parkering, maar die atletiekmense is toegang geweier! Hul buite-parkeerplek, vir ongeveer 30+ motors, was al parkering vir al die atletiektoeskouers. Die busse moes in die M12 Noord parkeer: dit is ‘n baie besige dubbelpad en een baan is toegemaak om vir die busse [klein en groot] plek te maak! Geen wonder dat Riebeeckstad Hoërskool se bussie gesteel is nie!

Maar dit was het einde niet! Toe ons Woensdag daar aanland, moes ons hoor dat die hamergooi en diskusgooi op ‘n stadion in Chatsworth, ongeveer 30km daarvandaan, gehou gaan word. Die rede was omdat die atletiekstadion se veiligheidshok stukkend is – alhoewel die Bestuur ‘n jaar gehad het om seker te maak dat alles in die stadion funksioneel is!! Spanne was nie almal gerat hiervoor nie, want hulle het slegs met groot busse opgedaag en nie ekstra beamptes [soos die Vrystaat] gehad om hul atlete daar te ondersteun nie!

Asof dit nie genoeg ontwrigting was nie, het die Bestuur se organisasier hulle lelik in die steek gelaat en daag die implemente toe eers na 11:00 die Donderdagoggend in Chatsworth op – dit nadat die atlete alreeds vanaf 08:00 daar gewag het. Dit het veroorsaak dat die hamergooi/diskusgooi-atlete tot na 01:00 in die nag moes deelneem – dis reg, 1 uur in die nag!! Wie, in sy regte verstand, verwag van skoolkinders om daardie tyd van die nag atletiek te doen!!

Dink u enige van die SASA Bestuur was daai tyd van die nag ook by daardie stadion teenwoordig? – Dink weer!!! Behalwe vir Pieter Lourens, Brandon du Plessis en Wimpie Lodewyk, sien mens buitendien nie een van die ander SASA Bestuurslede wat iets op ‘n SA byeenkomste doen nie!

Baie min van hierdie atlete het hul medaljes gedurende ‘n oordentlike medaljeparade by die Kingspark Stadion ontvang!

Toe die atlete, ouers en Spanbestuur gaan kla het oor die swak organisasie en die swak fasiliteite by Chatsworth, is daar aan hulle gesê dat “hierdie is Afrika, pas aan of los dit.”

En dit komende van die mense wat ons ingestem het om na ons skole-atletiek om te sien! Hulle tree op asof ons by hulle moet inval – ook by hul AJV voel dit so – terwyl hul Grondwet [Art 10] baie duidelik is dat die Bestuur die wil van die AJV/m.a.w. die provinsies se wil moet toepas!! Die Dept Sport en Rekreasie lag seker nou lekker na hul “geveg” met SASA aan die einde van Maart oor die datums waarop SA’s moet plaasvind.

Bogenoemde is maar die groot probleme! Die normale probleme het ook weer gedurende die program by die Kingspark Stadion kop uitgesteek: Geen sambrele/koelte by die velditems waaronder beamptes en atlete kon skuil nie, te min beamptes by die velditems sodat die uitslagborde selde gebruik is, by een gewigstootput was daar geen beamptes en/of sektorlyne toe die atlete daar aangekom het nie, atlete wat benadeel is omdat beamptes nie die beste agt atlete kon identifiseer en uithaal nie!

Verdien die skoolatlete van Suid-Afrika sulke behandeling? Hoeveel jaar moet ons nog tevrede wees met sulke afskeepwerk? Is dit nie tyd vir “#SASA Management must fall” nie!