Op 31 Mei 2016 skryf Rooimier
Op 31 Mei 2016 skryf Rooimier:
‘n Persoon wat in skole-atletiek betrokke wil raak in die Vrystaat moet hare op sy tande hê om kop te hou tussen die verskillende strukture wat tans rolspelers in atletiek is!
Tussen SA Skole Atletiek [SASA] en Atletiek SA [ASA] is daar tans so ‘n oorvleueling dat dit werklik moeilik is om te verstaan hoe albei bestaansreg het…en tussen hierdie twee strukture is die skoolatleet, hul ouers en hul afrigters vasgevang!
SASA se SA’s werk met 3 drie ouderdomsgroepe, nl. 0/15, 0/17 en 0/19 en al die atlete moet op skool wees. ASA het ‘n byeenkoms genaamd SA Sub-Jeug, Jeug en Juniors (en soms word die 0/23’s bygevoeg). Hulle ouderdomsgroepe is 0/16, 0/18 en 0/20, wat maar eintlik presies dieselfde atlete is wat in SASA se ouderdomsgroepe deelneem – behalwe dat hulle nie op skool hoef te wees nie! Die rede hoekom die SASA 0/15-atleet dieselfde atleet is as wat in die ASA-struktuur ‘n 0/16-atleet genoem word, is slegs ‘n semantiese/taalkundige verskil.
Elkeen van hierdie strukture het ook hul eie kwalifikasie-vereistes! Die SASA struktuur publiseer hul kwalifikasie vanuit die nasionale liggaam en al die provinsies moet dit gebruik. ASA publiseer ook sy kwalifikasies vanuit sy nasionale kantoor, maar die provinsies mag hul eie kwalifikasie (wat gewoonlik moeiliker is as die nasionale riglyn) gebruik!
En om alles te kroon, het elkeen van hierdie liggame ook hul eie SA rekords: SASA s’n is eintlik byeenkomsrekords, wat net op hul SA kampioenskappe verbeter kan word, terwyl ASA se rekords op enige tyd op enige goedgekeurde byeenkoms, selfs in die buiteland, opgestel kan word!
By die 2014 AJV van SASA was die President van ASA teenwoordig en enige verteenwoordiger wat daar teenwoordig was, sou onder die indruk gekom het dat daar ‘n goeie verhouding tussen die twee strukture bestaan. Die indruk vervaag egter baie gou as jy met die verskillende strukture op provinsiale vlak kontak maak…hulle het eintlik glag nie ooghare vir mekaar nie!
…en die ouers moet maar opdok om hul bloedjies by twee verskillende SA kampioenskappe uit te bring! …en die afrigters moet ‘n towernaar wees om die atleet vir hierdie twee verskillende kampioenskappe af te skerp!
Atletiek in SA moet wakker word en die groter prentjie begin raaksien!