Op 31 Mei 2016 skryf Rooimier


Op 31 Mei 2016 skryf Rooimier:

‘n Persoon wat in skole-atletiek betrokke wil raak in die Vrystaat moet hare op sy tande hê om kop te hou tussen die verskillende strukture wat tans rolspelers in atletiek is!

Tussen SA Skole Atletiek [SASA] en Atletiek SA [ASA] is daar tans so ‘n oorvleueling dat dit werklik moeilik is om te verstaan hoe albei bestaansreg het…en tussen hierdie twee strukture is die skoolatleet, hul ouers en hul afrigters vasgevang!

SASA se SA’s werk met 3 drie ouderdomsgroepe, nl. 0/15, 0/17 en 0/19 en al die atlete moet op skool wees. ASA het ‘n byeenkoms genaamd SA Sub-Jeug, Jeug en Juniors (en soms word die 0/23’s bygevoeg). Hulle ouderdomsgroepe is 0/16, 0/18 en 0/20, wat maar eintlik presies dieselfde atlete is wat in SASA se ouderdomsgroepe deelneem – behalwe dat hulle nie op skool hoef te wees nie! Die rede hoekom die SASA 0/15-atleet dieselfde atleet is as wat in die ASA-struktuur ‘n 0/16-atleet genoem word, is slegs ‘n semantiese/taalkundige verskil.

Elkeen van hierdie strukture het ook hul eie kwalifikasie-vereistes! Die SASA struktuur publiseer hul kwalifikasie vanuit die nasionale liggaam en al die provinsies moet dit gebruik. ASA publiseer ook sy kwalifikasies vanuit sy nasionale kantoor, maar die provinsies mag hul eie kwalifikasie (wat gewoonlik moeiliker is as die nasionale riglyn) gebruik!

En om alles te kroon, het elkeen van hierdie liggame ook hul eie SA rekords: SASA s’n is eintlik byeenkomsrekords, wat net op hul SA kampioenskappe verbeter kan word, terwyl ASA se rekords op enige tyd op enige goedgekeurde byeenkoms, selfs in die buiteland, opgestel kan word!

By die 2014 AJV van SASA was die President van ASA teenwoordig en enige verteenwoordiger wat daar teenwoordig was, sou onder die indruk gekom het dat daar ‘n goeie verhouding tussen die twee strukture bestaan. Die indruk vervaag egter baie gou as jy met die verskillende strukture op provinsiale vlak kontak maak…hulle het eintlik glag nie ooghare vir mekaar nie!

…en die ouers moet maar opdok om hul bloedjies by twee verskillende SA kampioenskappe uit te bring! …en die afrigters moet ‘n towernaar wees om die atleet vir hierdie twee verskillende kampioenskappe af te skerp!

Atletiek in SA moet wakker word en die groter prentjie begin raaksien!




Op 21 April 2016 skryf Rooimier


Op 21 April 2016 skryf Rooimier… Die Vrystaat het nie spoed nie!

As mens die hoërskole en die primêre skole se uitslae op hul onderskeie SA kampioenskappe ontleed, is dit opmerklik dat die twee provinsiale spanne altwee aan ‘n te kort aan spoed ly!

  Op SA’s Op SA’s Op Interhoër
100m 1ste 8ste 1ste
M /15 12.04 12.68 12.75
M /17 12.01 12.72 12.79
M /19 11.93 12.47 12.56
       
S /15 10.76 11.46 11.52
S /17 10.56 11.07 10.94
S /19 10.45 10.81 10.80

In die meeste gevalle sou die Vrystaatkampioen nie eens 8ste (m.a.w. in die finaal) op SA’s kon kom nie!

Die toekoms lyk ook nie veel rooskeuriger nie: Op die SA Primêre Skole steek die Vrystaat ook sleg af in die naellope!

M/12 100m 2 in finaal S/12 100m 0 in finaal
  150m 2 in finaal   150m 0 in finaal
M/13 100m 0 in finaal S/13 100m 2de en 3de in finaal
  200m 0 in finaal   200m 1ste + nog 1 in finaal

 

Hier is dit darem so 50/50%, maar ook nie juis ‘n sterkpunt nie!

As ons vinnigste atlete nie kompeterend in die naellope is nie, hoekom hardloop hulle dan in die naellope?

Hoekom skuif afrigters nie hierdie atlete na ander items waar hulle met hul beskikbare spoed beter sou vaar nie? Ek is van mening dat Mnr. X nie sy vinnigste atleet na ‘n ander item sal aanbeveel nie, want hy rig naellope af, nie die ander item nie! Hy moet hou wat hy het – hy kan nie dit wat hy het weggegee vir ‘n ander afrigter om met die atleet te presteer nie.

Die atleet kon miskien in die hekkies of verspring of 400m beter, met die spoed tot sy/haar beskikking , gevaar het!

Die probleem is dat die skoolafrigtersgroep nie as ‘n span funksioneer nie! Dit is eerder ‘n kwessie van elkeen vir himself – en dit benadeel die atleet, die skool en die Vrystaat.

Die meeste skole wat goed vaar in atletiek BEPLAN hul atlete se sukses! Hierdie beplanning word gewoonlik deur die oorkoepelende Atletiekorganiseerder gedoen, want hy/sy kyk na die groter prentjie. Gewoonlik is hy/sy ook nie betrokke by die saak as afrigter nie …en die meeste beplanning word aan die hand van die Joba-tabelle gemaak:

By die kleursport word die atleet blootgestel aan ‘n verskeidenheid van items en die items wat die meeste punte behaal, word outomaties die atleet se items.

MAAR ons moet 3 stappies verder gaan:

Eerstens moet Atletiekorganiseerders ‘n bietjie daardie prestasies aan die hand van Vrystaat- en SA-standaarde meet! Die item, wat die meeste tabelpunte kry, is nie outomaties kompeterend op provinsiale en nasionale vlak nie.

Tweedens moet ons kennis gaan soek! Daar is ander afrigters wie se atlete in ‘n sekere item presteer. Kontak hom/haar en gaan steek kers op. Die Vrystaat is bevoorreg om die VSAAV kursus in Desember te hê – hulle het ook Itemkoördineerders, wat jou kan help om by ander ervare afrigters uit te kom. Dit moet nie net ‘n skoolspanpoging wees nie – dit kan ook ‘n Vrystaatspanpoging word! Ons moenie skaam wees om te vra nie, of bang wees dat jou atleet afgerokkel gaan word nie!

Derdens moet ons [hoërskool- en laerskoolafrigters] in die Vrystaat koppe bymekaar sit om mekaar te help om werklike naellopers te ontwikkel! Eerstens moet daar talentidentifikasie wees, maar daarna moet ons alles in die stryd werp om daardie atlete te ontwikkel tot kampioene! Hier dink ek aan ‘n simposium vir naelloopafrigters, met net die beste senior afrigters om ons die pad te wys!

In 2016 het die Vrystaat se hoërskolespan derde [2015 was hul 2de] en die primêre skoolspan vierde [hulle was al 2de] op hul onderskeie nasionale kampioenskappe gekom! Al manier om ons verlore glorie te herwin, is om een van ons swakpunt in ‘n sterkpunt te omskep! ‘n Paalspringer is slegs ‘n paalspringer en ‘n gewigstoter is gewoonlik slegs ‘n gewigstoter, maar ‘n uitstaande naelloper kan ‘n klomp items [100m, 200m, hekkies en aflos] dek!




Op 7 Maart 2016 sê Rooimier


Die 2016-atletiekseisoen is besig om einde toe te staan – sowel die primêre skole as die hoërskole se Vrystaatspanne is gekies vir onderskeidelik Port Elizabeth en Bloemfontein!

Maar iets wat hinder, is die verskillende byeenkomsprogramme wat gevolg word:
In die primêre skole is daar sirkels, wat na distrikbyeenkomste lei, dan ‘n “Noord-Vrystaat”-byeenkoms tussen die Lejweleputswa en Fezile Dabi Onderwysdistrikte…hier word nog atlete ge-elimineer! Daarna is die atlete oppad Interprimêr, waar die Vrystaatspan gekies word, toe!!!

In die hoërskolestruktuur is daar ook sirkels en zones en dit lei ook tot distrikbyeenkomste! MAAR hier eindig die eliminasieproses. Na die distrikbyeenkoms gaan die atlete Interhoër, waar die Vrystaatspan gekies word, toe!

Daar bestaan ‘n oorkoepelende struktuur, waar hoërskool- en primêre skole atletiekbesture saam vergader – die sogenaamde “Free State School Athletics Organization”, sommer die Organisasie genoem! Tog verskil die twee skolebesture oor die struktuur, wat in die Vrystaat van toepassing is! Was die idee om ‘n oorkoepelende organisasie nie juis dat dit tot eenvormigheid moes lei nie?

…en hier lê Rooimier se probleem! Die laerskooloutjies wat die meeste tyd aan afrigting moet spandeer, want hulle leer nog verskillende tegnieke aan, het die minste tyd vir afrigting! Hulle het ook die minste tyd vir vrienskaplike byeenkomstes, want na die kleursportbyeenkoms by die skool, is die eerste sirkelbyeenkoms [en eliminasie!] op hulle!!

Verder is hul pad na Vrystaatkleure 100% moeiliker as die meer gevorderde hoërskoolatleet: die laerskoolatleet moet onder die bestes in die Noord-Vrystaat [twee Onderwysdistrikte] kom, terwyl die hoërskoolatleet slegs sy [een] distrikmaats hoef te klop!

So terloops, daar bestaan natuurlik glad nie meer so ‘n struktuur soos Noord-Vrystaat nie! Atletiek in die Vrystaat is sterk gekoppel aan die Vrystaatse Onderwysdepartement en hulle werk net in Onderwysdistrikte, met begrotings, oorhoofse bestuur, “Syrec”-personeel en sportorganisasie!

Bou nou ‘n atletieknasie, wat die klein atleetjies afknou!!!