Op 6 Julie 2019 voel Rooimier dat dit tyd is om iets oor Caster Semenya te sê


Caster Semenya is al van skooldae af ‘n uitstaande atleet in die middelafstande! Deesdae is sy verseker SA se steratleet! As die 2009 Wêrelkampioen in die 800m, as die 2016 Olimpiese Spelekampioen in die 800m en toe weer in 2017 die Wêreldkampioen in die 800m,  is dit veilig om te sê dat SA nog nooit haar gelyke op die atletiekbaan gesien het nie!

Ongelukkig is Semenya nie net bekend vir haar atletiekprestasies nie, sy is ook die simbool vir damesatlete met ‘n verhoogde testostoroonvlakke – en sy is nie die enigste vroue-atleet in atletiek wat aan die toestand ly nie. Vir van u wat nie weet wat testostoroon is nie, net die volgende: dit is die primêre manlike sekshormoon en ‘n anaboliese steriode. Dit gee spier- en beenmassa aan die atleet.

So, ja, vroue-atlete wat aan die toestand ly, het ‘n voordeel wanneer dit by fisieke prestasies kom! MAAR aan die ander kant – en iets wat soms uit die oog verloor word – is dat atlete soos Semenya niks gedoen het om haarself hierdie voordeel te “gegee” het nie…sy is so gebore! En tog is sy ‘n vrou! Dus is sy ‘n vrou, wat gebore is met verhoogde manlike hormone. Sy het geen skuld hieraan nie!

Nou stamp sy koppe met die Wêreld Atletiekliggaam (voorheen bekend as die IAAF). Die wil hê dat Semenya medisyne moet drink om haar testostoroonvlakke af te bring tot by ‘n meer aanvaarbare vlak. (Onthou dat alle vrou wel oor testostoroon beskik, net in baie kleiner hoeveelhede as Semenya) Nou word sy “gestraf”, maar sy het nie skuld nie! Ook weet ons nie regtig wat die onbedoelde gevolge vir Semenya se gesondheid sal wees as haar hormoonvlakke kunsmatig verlaag word nie!!

…en hierin lê die dilemma: Caster is nie “siek” nie! Hoe kan sy gedwing word om medisyne te gebruik omdat sy aan ‘n natuurlike toestand ly?! MAAR aan die ander kant: sy het wel ‘n voorsprong op die ander vroue-atlete op die atletiekbaan! Dit is Wêreld Atletiek se mandaat om die speelveld vir almal gelyk te maak – hulle wil die ander vroue-atlete beskerm. Dus moet Semenya haar testostoroonvlakke of afbring of ophou met atletiek Of minstens in ‘n ander atletiekitem, waar haar voorsprong nie so sterk is nie, meeding!

“She is between a rock and a hard place” Rooimier kry haar jammer!




Op 24 November is daar 'n onrustigheid in Rooimier se gemoed ...


Op 24 November 2017 is daar ‘n onrustigheid in Rooimier se gemoed …

Dit is “Black Friday” en die mense bestorm die winkels in mass – maar Rooimier sien ‘n ander stormloop en dit is nie so ooglopend soos die inkopiebedrywighede nie!

In 2015, op versoek van die Vrystaat Hoërskole (VSHSAO), stel die VSAAV ‘n afrigter vir elke item op SA Skole in Rustenburg aan. Alhoewel die Spanbestuurder negatief teenoor hierdie inisiasief is, werp dit dadelik vrugte af: Die ouers ervaar dit as baie positief en atlete word daadwerklik bygestaan deur ervare, kennisvolle persone.

…maar skielik is hierdie inisiatief in 2017 onder verdenking – of is dit die VSAAV wat onder druk is?!

In die 25 November 2017- notule van die VSHSAO staan daar: “The meeting expresses its disappointment in the fact that MANCO-members and other Free State coaches were discussed in person during the AGM of the VSAAV.” Snaakse inskrywing, nê! Die MANCO kan slegs hulself “express” indien hulle, na ‘n bespreking, ‘n besluit neem …en as hulle ‘n besluit neem, moet daar ‘n voorsteller en sekondant aangeteken word!  Dus weet die leser nou nie wie die saak aangeroer het nie!!

Buitendien is die formulering baie vaag en kan die leser nie aflei wie die MANCO-lid of die afrigter is oor wie daar gesprek gevoer is nie! Hou in gedagte dat die VSAAV ‘n afrigtersvereniging is en seker die reg het om afrigters – al is hy/sy ook ‘n MANCO-lid – te bespreek!!!

Op die volgende MANCO-vergadering kom dit toe aan die lig dat geen so ‘n bespreking op die VSAAV se AJV plaasgevind het nie!!! Nou vra Rooimier wat gaan hier aan???

Op 13 Oktober 2017 hou die VSHSAO hul AJV! Skielik staan ‘n MANCO-lid op en stel dit as ‘n feit dat die Afrigtersgroep nie hul werk op SA’s doen nie en daarom moet die inisiatief geskrap word.  Dit val baie vreemd op komende van ‘n MANCO-lid wat slegs een van die drie SA’s – waar die afrigters diens gedoen het – bygewoon het! Toe daar ‘n koor van teenkanting opgaan, kom die Voorsitter agter dat die MANCO-lid net die voorstel gemaak het en toe die AJV verlaat het en huiswaards gekeer het. Snaaks, nê?!

‘n Tweede MANCO-lid maak toe verder die opmerking dat sy voel die VSHSAO moet self die afrigter(s) vir die Vrystaatspan aanwys (en nie die VSAAV op die VSHSAO se versoek nie!) Sy voel dat jonger afrigters ‘n kans moet kry om as Vrystaatspanafrigters diens te doen!

Omdat hierdie opmerkings/voorstelle soveel oproer in die vergadering tot gevolg het, is die saak na die MANCO verwys. Terwyl Rooimier hier skryf is die uitslag van die MANCO bespreking nog nie bekend nie – alhoewel daar ‘n MANCO-vergadering direk na die AJV plaasgevind het – dus geen oplossing vanaf 13 Oktober tot 24 November nie! Hoe lank moet ons wag om uit te vind wat die uitslag is??

Klink dit ook vir u asof daar iets snaaks hier agter die skerms aan die gang is?

Die VSAAV bedien die Vrystaatse skole-atlete al vir 29 jaar – en die VSHSAO is maar slegs 8 jaar oud! Skielik is die Afrigtersvereniging nou in die VSHSAO se visier!!! Die VSAAV is die enigste geassosieerde lid van die VSHSAO wat ‘n finansiële bydrae maak tot die Vrystaatspan se uitgawes na SA’s!

Hierdie Afrigtersgroep het al minstens 5 SA-medaljes vir die Vrystaatspan gered deur hul inmenging met beamptes se swak besluite gedurende die SA Skole kampioenskappe! Dink u dat ‘n jong, onervare afrigter dieselfde sukses sou kon behaal? Wie sou beter as Spanjool Wessels in 2017 se SA’s gewees het by die Diskus-en Hamergooikompetisies in Chatsworth?

Hoe wen die Afrigtersgroep 5 medaljes – en baie ander ingrypings wat nie noodwendig ‘n medalje tot gevolg gehad het nie – as hulle nie op hul pos was nie!Die medaljes was in Stap, Naellope, Driesprong, Gewigstoot! Watter topatleet/ Vrystaatatleet/ SA Jeugatleet wil hê ‘n onervare, jong afrigter moet hom/haar bystaan in die belangsrikste, nasionale kampioenskap van die atleet se seisoen????

Hierdie opmerkings/voorstelle is so skokkend onwaar en onvanpas dat Rooimier daarvan oortuig is dat iets anders hier aan die gang is!

Nou loop daar ook gerugte rond dat die VSHSAO sy 8 jaar oue Grondwet drasties wil verander!!! Ek verstaan ‘n Spesiale AJV word in die vooruitsig gestel! Hoekom die haas – wat is so belangrik dat dit nie tot 2018 se AJV kon wag nie??? Het die persone, wat hierdie veranderings dryf, al ooit enige ander Grondwet van begin tot einde geskryf/herskryf?

 




Op Jeugdag dink Rooimier aan ons skool-atlete ...


Op 16 Junie [Jeugdag] 2017 wonder Rooimier of almal belangstel in die Jeug van Suid-Afrika …en siende dat hierdie webwerf oor atletiek gaan, behoort die vraag te verander: Stel die atletiekadministrateurs/programopstellers/ beamptes en selfs afrigters regtig belang in die atlete! 

Dit is nie so maklik om ander mense se redes, motiewe en dryfvere te bepaal nie! Tog kan mens na hul aksies kyk en redelike afleidings maak…  

As die Administrateurs om hul bestuursvergaderingstafeks inskuif, wonder mens of hul eerste instink is om die atlete se beste belang te beskerm? Dit is ongelukkig my ervaring dat daardie woorde “beste belang van die atlete” nooit in die raadskamers gehoor word nie! Interne politiek, verkiesing van “vriende”, manipulering van feite, agteraf gekonkel is aan die orde van die dag: Mense wat die doelwitte van die atletiekorganisasie oortree, word vergewe – ander wat hul werk doen, maar te veel vrae vra, word uitgestem deur ‘n agteraf gekoukus!! 

As mens na die programroosters van verskillende byeenkomste kyk, weet ek nie of hulle opgestel is om die atlete ter wille te wees nie! Baie min programme maak bv. voorsiening vir Hamergooi – ander los Driesprong heeltemal uit! Die arme Stapper het slegs een byeenkoms voor Interhoër om te kwalifiseer vir die Vrystaatspan – dus is SA’s hul 3de byeenkoms van die jaar! Kyk ‘n bietjie na die botsings, wat in programme ingebou word …bv. botsings tussen naellope en spronge by veral die laerskole! Is dit bv. nog regverdig om die Joba-tabelle aan te wend om die Top 50 wenners van ‘n byeenkomstes te bepaal – ons almal weet die tabelle bevoordeel die worpe! Iemand moet dit vir programopstellers verduidelik dat byeenkomsprogramme nie in sement gegiet is nie! 

Oor beamptes se optrede hang daar ongelukkig ook gereeld vraagtekens: Hoeveel keer sien ons nie dat ‘n atleet een maal in die seisoen die kwalifikasie behaal nie – dan gekies word vir die Vrystaatspan, maar ook op SA’s nie naasteby die prestasie kan herhaal nie! Sommige byeenkomtes stotter van die een diskwalifikasie na die ander, terwyl net die volgende een nie eens een diskwalifikasie/dispuut/appél oplewer nie …en die enigste verskil tussen die twee byeenkomstes is die beamptes wat verander het/in beheer is! Hoeveel keer gaan die “call room” nog atlete se deelname en prestasie pootjie? Miskien moet iemand vir beamptes verduidelik dat reëls met empatie toegepas moet word! Hulle is daar omdat die atleet daar is …en nie andersom nie! 

Ongelukkig weeg die eie “ek” by verskeie afrigters die meeste! Dan praat ek nie eens van die onprofessionele optrede om atlete by mekaar af te rokkel nie! En dink u dat u kind se afrigter sommer vanself sal erken dat hy/sy nie alles weet nie en liewer by ‘n ander afrigter moet gaan kers opsteek? Hoeveel afrigters, wat u ken, sal sy/haar atleet vat en na ‘n ander afrigter vir hulp gaan?? 

Die VSAAV het ‘n afrigtingskursus in Desembermaand op Sasolburg! Gaan kyk gerus hoeveel onderwysers kom kwalifiseer vir Vlak I by hierdie kursus! EN hoeveel dink u kom terug om ook hul Vlak II of Vlak III te behaal …die uitvalsyfer is +80%! 

Daar is gelukkig nog baie administrateurs/programbestuurders/beamptes en afrigters, wat werklik belangstel in die atlete se belange – MAAR hulle en ouers moet hande vat en aandring dat hulle atlete/kinders ten alle tye die belangrikste rolspelers in skole-atletiek moet wees!!!

 




Op 5 April is Rooimier nog ongelukkig oor 2017 SA's


Op 5 April is Rooimier nog ongelukkig met dit wat tydens die SASA SA Hoërskole Atletiekkampioenskap in Durban gebeur het!!

Hierdie was veronderstel om die hoogtepunt van die skoolatleet se atletiekjaar te wees! Die beplanning vir hierdie byeenkoms is al vir meer as ‘n jaar aan die gang!

Maar iemand het Suid-Afrika se skoolatlete lelik in die steek gelaat!!!

Hoe die SASA Bestuur Kingspark Atletiekstadion as ‘n venue kon goedkeur, gaan gesonde verstand te bowe: Toe ons in 2009 laas daar was, het ons op die Sharks se B-veld, agter die pawiljoen, geparkeer. Daar was oorgenoeg plek en buitendien was daar sekuriteit! Nou is hierdie area in ‘n boogskietbaan ontwikkel – en tussen die rugbystadion en die atletiekstadion is daar ook nou ‘n Virgin Active, met sy eie privaat parkeerplek. Dus was daar geen aangewese parkeerplek vir ouers, skoolbussies en groot busse nie! Dit was elke oggend chaos!

Die Moses Mabida Stadion het ondergrondse parkering, maar die atletiekmense is toegang geweier! Hul buite-parkeerplek, vir ongeveer 30+ motors, was al parkering vir al die atletiektoeskouers. Die busse moes in die M12 Noord parkeer: dit is ‘n baie besige dubbelpad en een baan is toegemaak om vir die busse [klein en groot] plek te maak! Geen wonder dat Riebeeckstad Hoërskool se bussie gesteel is nie!

Maar dit was het einde niet! Toe ons Woensdag daar aanland, moes ons hoor dat die hamergooi en diskusgooi op ‘n stadion in Chatsworth, ongeveer 30km daarvandaan, gehou gaan word. Die rede was omdat die atletiekstadion se veiligheidshok stukkend is – alhoewel die Bestuur ‘n jaar gehad het om seker te maak dat alles in die stadion funksioneel is!! Spanne was nie almal gerat hiervoor nie, want hulle het slegs met groot busse opgedaag en nie ekstra beamptes [soos die Vrystaat] gehad om hul atlete daar te ondersteun nie!

Asof dit nie genoeg ontwrigting was nie, het die Bestuur se organisasier hulle lelik in die steek gelaat en daag die implemente toe eers na 11:00 die Donderdagoggend in Chatsworth op – dit nadat die atlete alreeds vanaf 08:00 daar gewag het. Dit het veroorsaak dat die hamergooi/diskusgooi-atlete tot na 01:00 in die nag moes deelneem – dis reg, 1 uur in die nag!! Wie, in sy regte verstand, verwag van skoolkinders om daardie tyd van die nag atletiek te doen!!

Dink u enige van die SASA Bestuur was daai tyd van die nag ook by daardie stadion teenwoordig? – Dink weer!!! Behalwe vir Pieter Lourens, Brandon du Plessis en Wimpie Lodewyk, sien mens buitendien nie een van die ander SASA Bestuurslede wat iets op ‘n SA byeenkomste doen nie!

Baie min van hierdie atlete het hul medaljes gedurende ‘n oordentlike medaljeparade by die Kingspark Stadion ontvang!

Toe die atlete, ouers en Spanbestuur gaan kla het oor die swak organisasie en die swak fasiliteite by Chatsworth, is daar aan hulle gesê dat “hierdie is Afrika, pas aan of los dit.”

En dit komende van die mense wat ons ingestem het om na ons skole-atletiek om te sien! Hulle tree op asof ons by hulle moet inval – ook by hul AJV voel dit so – terwyl hul Grondwet [Art 10] baie duidelik is dat die Bestuur die wil van die AJV/m.a.w. die provinsies se wil moet toepas!! Die Dept Sport en Rekreasie lag seker nou lekker na hul “geveg” met SASA aan die einde van Maart oor die datums waarop SA’s moet plaasvind.

Bogenoemde is maar die groot probleme! Die normale probleme het ook weer gedurende die program by die Kingspark Stadion kop uitgesteek: Geen sambrele/koelte by die velditems waaronder beamptes en atlete kon skuil nie, te min beamptes by die velditems sodat die uitslagborde selde gebruik is, by een gewigstootput was daar geen beamptes en/of sektorlyne toe die atlete daar aangekom het nie, atlete wat benadeel is omdat beamptes nie die beste agt atlete kon identifiseer en uithaal nie!

Verdien die skoolatlete van Suid-Afrika sulke behandeling? Hoeveel jaar moet ons nog tevrede wees met sulke afskeepwerk? Is dit nie tyd vir “#SASA Management must fall” nie!

 

 

 




Op 12 Februarie 2017 bespiegel Rooimier oor atletiektabelle


Elke jaar word die skole gevra om die nuutste weergawe van die Joba-tabelle aan te koop…en elke jaar trek die tabelle al verder skeef …

In die verlede was die SASOL-tabel ‘n nuttige hulpmiddel vir die atleet, die atletiekafrigter en administrateer: die atleet kon sien waar sy prestasie op ‘n nasionale vlak inpas, die afrigter kon bv. die veelsydige atleet se prestasies teenoor mekaar opweeg en die atleet aanmoedig om op sy “beste” twee items te konsentreer en die administrateer kon verskillende items met mekaar vergelyk om in sekere kompetisies [soos Sentraal Top 20 en SASOL-reeks/Clover] die beste atlete te kies.

MAAR dit het heeltemal verander! Niks van bogenoemde is meer moontlik nie! Inteendeel, weet ek nie hoekom ons nog die tabelle het nie! Dit het nou so skeefgetrek dat dit geen weerspieling van ‘n skool se ware atletiekkrag meer meet nie!

Na elke byeenkoms kan daar ‘n Top 50-lys uitgedruk word! Ek het ‘n paar van hulle, m.a.w. van ‘n paar verskillende atletiekbyeenkomstes, bymekaar gemaak: In een byeenkoms (‘n Uitnodigingsbyeenkoms) was die beste 12 items op die lys, worpe items – waarvan een nie eers die kwalifiserende afstand vir SASA SA’s is nie! Die 50ste prestasie op die lys, Meisies /17 is ‘n Diskusafstand van 30,70: dit is 5,30m weg van kwalifikasie!! Dit verdien 769 punte op die tabel …daarteenoor kry ‘n  Meisie /15 wat die kwalifiserende afstand van 10m in die driesprong met 0.20m oorskry het, slegs 672 punte! Dus wie gaan by die huis bly as die span gekies moet word: die Vrystaatatleet natuurlik! Hoe verduidelik jy dit aan ‘n kind??? Gaan daardie Diskusmeisie enigsins onder die beste 8 atlete in die itemkompetisie kom???- maar sy is onder die top 50-prestasie op ‘n volle byeenkoms!

Kyk ons na ‘n topklasbyeenkoms (waar verskeie van SA se topskole – in ‘n spankompetisie – deelgeneem het EN waar die wenspanne d.m.v. die tabelle bereken word) dan ys mens om te sien dat die “wenspan” omtrent net uit worpe-atlete bestaan – en verseker nie noodwendig die beste atletiekspan is nie! Hier is die 18 beste prestasies op die lys, worpe-items – en slegs een daarvan is ‘n seunsitem! Dit sou nog erger gewees het indien Hamergooi ook op die program was!  Geen Paalspring-, geen Driesprong- en geen Hoogspringprestasie kry ‘n plek op een van die twee Top 50-prestasielyste nie!!! EN slegs een Verspringprestasie in die 100 prestasies op hierdie twee lyste!

Vir jare was byeenkomste, wat bepaal word deur die gebruik van tabelle, die in-ding! Ons vergeet dat die Appelreeks, en sy opvolger, die SASOL-reeks, eers deur plekke met punte bepaal was! 7,5,4,3,2,1 en niemand daarna verdien iets nie! Toe het atlete van dieselfde ouderdom teen mekaar deelgeneem en nie soos nou teen al die ander ouderdomsgroepe d.m.v die tabel nie! Nou kry tot die 15de plek (hang af wat die byeenkomsreël bepaal) nog punte! Vroeër kon jy ‘n SA rekord gebreek het, maar jy het slegs 7 punte gekry …en dit voel vir my of daar meer SA rekords – as deesdae! – wel hierdeur verbeter is!

Ek stel voor die organiseerders van die Sentraal Top 20 en die Cloverbyeenkoms in die Vrystaat moet “nuut” – of is dit “oud” – begin dink! ‘n Bietjie inisiatief sal weer alle skole ‘n billike kans gee om in sulke spankompetisies te presteer! Ek onthou nog hoe lekker dit was om so ‘n span te kies: al die statistieke van opponent, die gestry met ander afrigters om jou atleet in die span te kry, die uitoorlê van die opponente! [Dr. Sam Pellissier en Ilze van Graan was meesters daai dae!]

Ek glo dat die statistici wel goeie argument vir die huidige toestand van die tabelle sou hê, maar ons ou dom atletiekmensies sal dadelik, en duidelik, sien dat die tabelle nie meer meet wat dit veronderstel is om te meet nie. Vir my is die dae van tabelle vir skoolatlete getel. Hoe gouer ons dit eenkant toe skuif, hoe beter




Op 21 Januarie sê Rooimier ...


Op 21 Januarie 2017 sê Rooimier dat hierdie die dekade van die Ouerafrigter is.

By elke byeenkoms waar ons as skole kom, sien jy die ouers wat self hul kinders afrig. Dit is opmerklik dat die skoolonderwyser-afrigter al hoe minder betrokke is by atletiekafrigting….en Rooimier het begin nuuskierig raak oor hierdie “nuwe” tendens.

Die maklike antwoord is dat die jonger onderwysers nie meer belangstel nie! Die ouer garde sê maklik “Ag, hulle (die jong onderwyser(es)) stel nie belang nie – hulle is lui.” Tog is daar baie voorbeelde van jong opkomende onderwyser-afrigters in die Vrystaat!

Rooimier is van mening dat die rede vir die verskynsel van Ouerafrigters meer kompleks is – en dat daar is eintlik verskeie faktore is wat saamspan om hierdie tendens te skep:

Eerstens, is daar die soort persoon wat deesdae Onderwys toe kom! Praat jy met die ouergarde, sal baie van hulle vir jou sê dat hulle juis kom skoolhou het omdat die betrokkenheid by buitemuurs hulle gelok het. Daarteenoor, hoor mens al hoe meer dat onderwysers weier om by buitemuurs betrokke te raak – en as die Skoolhoof hulle daaroor aanspreek, dan spring die onderskeie vakbonde vinnig in die Skoolhoof se keelgat af!  Deesdae se onderwysers is vakbondmense, wat ‘n 7 ure dag beding het!

Tweedens, is atletiek vandag ‘n spesialis-sportaktiwiteit. Weg is die dae dat die onderwyser (met ‘n bietjie kennis) ‘n goeie atleet kan help ontwikkel en laat vorder tot op nasionale vlak. Die standaard van atletiek vereis gespesialiseerde kennis en baie ervaring van die afrigter. Komponente soos pleometriese kragontwikkeling, energiebronne, dieët, dubbelpiekprogrammering, motivering, ens vereis dat ‘n afrigter aanhoudend iets nuut moet aanleer en sodoende ‘n lewenslange student van sy item moet bly.

Dit is dan veral laasgenoemde wat die teelaarde vir die professionele afrigter geskep het. Veral die townshipskole se leerders, wat sou belangstel in atletiek, soek hul heil by klubs. Die skool help nie meer nie, daarom gaan soek hulle hulp by die professionele afrigter.

En laaste, maar nie die minste nie, is die ontvolking van die platteland … en Rooimier sien dit veral in die Vrystaat. Dit is nie die groot, bekende stadskole wat jaarlikse na die VSAAV se afrigtingskursus in Desembermaand kom nie! Die oorgrote meerderheid kom van die kleiner, plattelandse skool – en dan veral die ouer en sy begaafde kind – van die kleiner, plattelandse skool. Want mens moet nie dink omdat die skole in bv. die Suid-Vrystaatse dorpies agteruit (of toegemaak het) gegaan het, dat die plattelandse kind sy/haar talent skielik verloor het nie!

…en daardie kind se enigste redder is sy ouers, wat altyd hul beste vir hul kind sal probeer gee. Rooimier salueer vandag die ouer wat self sy moue opgerol het om sy kind na hoër hoogtes te neem …of net sy hand in sy sak gesteek het om sy kind na ‘n professionele afrigter aan te ry!

Vir hulle wil Rooimier sê: Die VSAAV is tot u beskikking. Hier is ‘n Vereniging wat u dilemma verstaan. Gaan gerus na http://vsaav.co.za en kyk hoe kan en wil hierdie onderwyserafrigters u help d.m.v. klinieke, kursusse en berigte oor afrigting.

 




Op 7 Desember sê Rooimier


Op 7 Desember het Rooimier die volgende te sê …

Ek kom nou net van die opening van die jaarlikse VSAAV- Atletiekafrigterskursus op Sasolburg af!

HTS Sasolburg se skoolsaal was vol atlete, afrigters en ouers, wat almal gekom het om meer kennis en vaardighede te bekom in hul gekose items! Die nie-amptelike getalle wil aandui dat daar baie naby aan 400 mense teenwoordig was ! EN hulle het van ooral oor gekom – ek het Welkom, Hennenman bussie gesien, daar was mense van Kroonstad, Vanderbijlpark en Porchefstroom …! EN ek was bevoorreg om die dame en haar kinders wat al die pad vanaf Zimbabwe gekom het, te ontmoet!

…oud en jonk, wit en swart, lank en kort, stadig en vinnig – hulle was almal daar!

My hart het van trots vinnig geklop toe Spanjool Wessels [Kursusleier] en Vis Janse van Rensburg [Voorsitter: VSAAV] die mense toegespreek het! In die skare het ek Nanda Barnard [uitstaande hoogspringer van die 80’er jare] en Johan Prinsloo [Voorsitter gedurende die USSASA- jare na 1994 en die person wat weer die Vrystaat Hoërskole vroeg in 2000 verenig het!], Henk Janse van Vuuren [huidige Onder-Voorsitter: Vrystaat Hoërskole Atletiekorganisasie] daar opgemerk het.

Op die verhoog het dit geskitter van die legends tot by die jonger afrigters, wat hul tyd, kennis en ervaring vir ‘n paar dae as Hoofafrigters, beskikbaar gestel het:  Tertius Liebenberg [Sunet Viljoen], wat al internasionale symposia toegespreek het; Basie Koen [Chris Harmse] , wat in een jaar meer medaljes op nasionale kampioenskappe bymekaar gemaak het as vele ander afrigters in hul hele afrigtersloopbaan reggekry het; Lee van den Berg[Hoogspring] en Elizna Naude [Diskus] , wat albei self/as atlete nasionale kleure verwerf het; die fluitjieman, Wilfred Sebotsa [Middelafstande] was daar en dan die jonger garde, wie se altlete al op provinsiale en nasionale kampioenskappe presteer het: Elizma du Plessis [Gimnasium], Nelis de Kock [Blouskool], Annie Marais [Parys], Charles van Rooyen [Dagbreek] en Leroux Jordaan [HTS Sasolburg]! EN dan was daar die staatmaker-afrigters, wat al verskeie jare bydra tot hierdie kursus se sukses, nl. Wimpie Nel, Corné Wessels, Cornel Muller en André Hatting!

…voorwaar ‘n uitgelese groep atletiekafrigters – nêrens in SA sal jy so ‘n kwaliteit groep mense bymekaar kan bring om onderwysers en ouers te help om die beste vir hul skoolatlete te doen nie! NêRENS!

Dis net jammer dat die “Athletics Free State Federation” die enigste vals noot op hierdie wonderlike geleentheid gesing het met hul onvermoë om die akkreditasie vir ASA- eksamens te laat realiseer!! Dit is die enigste en grootste afrigtings- en ontwikkelingsgeleentheid in die Vrystaat en hulle “join “ nie die “party” nie!

As iemand gedink het atletiek besig is om die kreeftegang te gaan, moet hulle op Sasolburg kom kyk hoe staan die mense in die son en sweet die atleetjies om nuwe tegnieke baas te raak! WONDERLIK.

Geluk VSAAV met hierdie 49ste kursus!  Volgende jaar vier ons die 50-jarige fees!! Hoeveel atletiekorganisasie, afrigtingsverenigings en/of sportbeamptes ken u wat 50 jaar gewei het aan die ontwikkeling van die Vrystaat se skole-atlete?

Nag, Oom Paul – ons verlang na jou!!




Op 7 Oktober sê Rooimier ...


Op 7 Oktober 2016 sê Rooimier …

Ons almal weet alreeds dat die nimlike Minster van Sport, Fikile Mbalula, sekere sportfederasies verbied het om internasionale toernooie aan te bied alvorens hulle nie ‘n sekere rasse-kwota bereik het nie …hy noem dit transformasie-teikens, maar ons almal weet dat dit ‘n swartkwota beteken! Hy verwys verseker nie na die hoeveelheid wit spelers in die nasionale sokkerspan nie!

Afgesien van die ekonomiese inpak wat hierdie besluit vergesel – miljoene rande het in SA ingevloei toe die SARU in 1995 die Rugby Wêreldbeker suksesvol aangebied het – is die besluit onverstaanbaar wanneer dit by Atletiek kom!

Altwee die nasionale besture van Atletiek, nl. die van Atletiek SA en SA Skole Atletiek, is ten volle getransformeer. Altwee word deur swart mense gelei, nl. Aleck Skhosana (ASA) en William Mokatsanyane (SASA). Baie min van die provinsiale strukture word deur witmense oorheers!

As ons egter na die verskillende provinsiale en nasionale spanne – wat uit skoolatlete bestaan – kyk, is dit opmerklik dat swartseuns amper 50% van hierdie spanne uitmaak, terwyl die swartmeisies slegs net so onder 10% uitmaak.

Gaan kyk ons na die Vrystaat se O/23 en seniorspanne versleg die prentjie by die mans na 30%! Die vroue se bydrae styg egter na 21%! As mens egter in ag neem dat daar omtrent geen senior atletiekklubs buite Bloemfontein bestaan nie … en dat omtrent 73% van alle na-skoolse atlete uit die Kovsie Atletiekklub kom, is hierdie syfers verstaanbaar: Een sentrum met een oorheersende atletiekklub in ‘n provinsie kan nooit werklik ‘n verskil in die SA konteks maak nie!

Dus rus die ontwikkeling van Atletiek by uitstek op die skouers van die Vrystaatse skole en hul onderwysers!!! As ons in ag neem dat sekere vakbonde, wat aktief in die grootste groep skole is, nie buitemuurse aktiwiteite deur hul lede aanmoedig nie, beteken dit dat slegs ‘n klein presentasie Vrystaatse skole die grootste las moet dra!!! Gelukkig (vir die transformasie van Atletiek) het hierdie skole al ‘n beduidende aantal swart leerders in hul sportgeledere!

…en nou die skrikwekkendste: In die 2016 Vrystaat Skolespan was daar slegs 13 [uit 72 swart atlete] atlete wat uit township-skole gekom het – slegs 5 meisies en 8 seuns! Dus het 82% van die swart atlete uit voorheen Model C-skole gekom!

Om nou terug te kom na die politieke besluit: as townships slegs 18% swart atlete bydra, is daar geen manier dat Atletiek hul transformasie-teikens gou gaan bereik nie! Afgesien dat die genoemde vakbonde se beleid veroorsaak dat township-skole geen atletiekafrigters of -organiseerders het nie, is die groot probleem dat geen township-skool die spasie of die finansiële vermoë het om sy eie sportgeriewe te ontwikkel nie.

Dieselfde Dept. van Sport, wat die politieke besluit in paragraaf een geneem het, is die Departement wat geen geriewe aan die meerderheid skole in SA kan/wil voorsien nie!




Rooimier skryf op 27 Julie ...


Rooimier skryf op 27 Julie …

2016 het soos elke vorige jaar, weer sy kwota sportdwelmonthullings opgelewer!  In SA het hierdie euwel hierdie jaar sy kop by provinsiale rugby uitgesteek, maar nou dat die Olimpiese Spele op hande is, is die opkikkergesprekke aan die orde van die dag….en die teiken is die skorsing van die hele Rusiese Olimpiese span!

Die IAAF het al die Rusiese atlete summier geskors, maar die oorkoepelende IOK het ‘n skuiwergat oopgelaat dat elke sportsoort se beheerliggaam hul eie besluit oor die saak mag neem! Ek glo dat die IAAF by hul oorspronklike besluit gaan bly en Rusland verbied om aan die atletiek deel te neem! Dit gaan nie net dat die IAAF ‘n nuwe voorsitter in Sebastiaan Coe het nie, maar dat atletiek al twee baie berugte “vuil” wedlope gehad het: die Mans 100m in Seoel 1988 en Vroue 1500m in London 2012!

By eersgenoemde naelloop het vier van die eerste vyf mans later positief vir verbode middels getoets, met Ben Johnson wat later van sy goue medalje gestoop is. Maar die 1500m was erger met ses van die eerste nege dames, o. a. ook die goue medalje-wenner, wat voor die wedloop of sederdien positief getoets is.

Ons almal weet dat hierdie euwel bestaan, maar ons steek ons kop in die sand en gaan maar rustig voort om ons atlete bloot te stel. Maar u sal nou vir my sê dat u atlete verseker nie steroïdes gebruik nie! Werklik? Wanneer laas het u die Saids lys van verbode middels bestudeer? Weet u watter gewone verkouemedisyne, of pynstillers, is op die lys? Onthou u nog wat het Sharapova gesê toe sy hierdie jaar uitgevang is: “Dit is ‘n nuwe middel en ons het nie geweet dat dit vanaf Januarie op die lys gesit is nie!”

Al ons atlete drink sportaanvullers/”supplements” : hoe weet ons wat alles daarin is? Kan ons werklik die vervaardigers en hul verkoopsmanne glo? Die SA Sportmedisynevereniging [Sasma] se President, dr. Zondi sê:”Daar is bewyse dat sommige potensieel skadelike en verbode bestanddele nie op die etiket aangedui word nie.” [Volksblad, 27 Julie 2016]

Hoe gouer ons, en ons atlete se ouers, besef dat daar geen kortpad na prestasie is nie, hoe beter. ‘n Gesonde diet en harde, eerlike werk is die enige oplossing.

 




Op 9 Junie het Rooimier gesê ...


Op 9 Junie het Rooimier gesê …

Hier is ‘n lelike ding wat sy kop uitsteek! Tans is daar ‘n dokument , van ongeveer 200 bladsye, wat deur SASA[SA Skole Atletiek] se strukture bespreek word. Hierdie sogenaamde “Manual” het die potensiaal om die hele skole-atletieksisteem, soos ons hom ken, omver te gooi!

Die “Manual”/Handleiding bespreek primêre en hoërskole se baan en veld [m.a.w. atletiek] sowel as landloop! Tans werk al die verskillende SASA provinsies deur die Handleiding om ‘n voorlegging by ‘n beoogde vergadering later in die jaar, in te dien.

Die Vrystaat het al twee jaar gelede met hierdie werk begin, maar toe was die ander provinsies nog nie reg hiervoor nie! Rooimier verneem dat die Vrystaatse Wimpie Lodewyk, Corlia Havenga, Rudolph Cloete en Willie Roux tans besig is om hul voorleggings van twee jaar gelede, af te stof en by te werk!

Sonder om die kar voor die perde te span, kan ons kennis neem van ‘n paar dinge wat tans in die Handleiding staan: Daar is werklik baie oulike goed in die Handleiding, wat skole en provinsies baie gaan help met die organisasie van ‘n byeenkoms …tegniese dinge, soos pligtestate vir sekere sleutelbeamptes en komitees, wat met vrug gebruik kan word!

MAAR die groot problem is dat die opstellers van die Handleiding ‘n totale nuwe, en tans vreemde, atletieksisteem voorstel! Iets wat ons nog nooit in SA gesien het nie!

Die voorstel in die Handleiding is dat atlete nie meer as indiwidue aan ‘n byeenkoms gaan deelneem nie, maar wel as ‘n lid van ‘n span. Die feit dat die atleet die item wen, is ondergeskik aan die punte wat hy/sy vir die span verdien. Atletiek word dus nou ‘n “match”/wedstryd, waar een span wen en ander verloor. Atlete mag ook nou aan ‘n maksimum van 5 items en aflosse deelneem, maar in die veldnommers word die aantal poging van 6 na 3 verminder.

Rooimier verstaan nie lekker hoe dit gaan werk nie, maar behoort na die beoogde vergadering meer begrip te hê! Al wat ek weet, is dat as die SASA provinsies nie ernstig walgooi nie, SASA maar hul deure kan sluit! As die verandering te radikaal is, voorsien ek dat al die hoërskoolatlete by ASA[Atletiek SA] se sub-jeug, jeug en junior atletiek gaan inskakel! Wat die primêre skole gaan doen, weet ek nie!!