Op 7 Oktober sê Rooimier ...


Op 7 Oktober 2016 sê Rooimier …

Ons almal weet alreeds dat die nimlike Minster van Sport, Fikile Mbalula, sekere sportfederasies verbied het om internasionale toernooie aan te bied alvorens hulle nie ‘n sekere rasse-kwota bereik het nie …hy noem dit transformasie-teikens, maar ons almal weet dat dit ‘n swartkwota beteken! Hy verwys verseker nie na die hoeveelheid wit spelers in die nasionale sokkerspan nie!

Afgesien van die ekonomiese inpak wat hierdie besluit vergesel – miljoene rande het in SA ingevloei toe die SARU in 1995 die Rugby Wêreldbeker suksesvol aangebied het – is die besluit onverstaanbaar wanneer dit by Atletiek kom!

Altwee die nasionale besture van Atletiek, nl. die van Atletiek SA en SA Skole Atletiek, is ten volle getransformeer. Altwee word deur swart mense gelei, nl. Aleck Skhosana (ASA) en William Mokatsanyane (SASA). Baie min van die provinsiale strukture word deur witmense oorheers!

As ons egter na die verskillende provinsiale en nasionale spanne – wat uit skoolatlete bestaan – kyk, is dit opmerklik dat swartseuns amper 50% van hierdie spanne uitmaak, terwyl die swartmeisies slegs net so onder 10% uitmaak.

Gaan kyk ons na die Vrystaat se O/23 en seniorspanne versleg die prentjie by die mans na 30%! Die vroue se bydrae styg egter na 21%! As mens egter in ag neem dat daar omtrent geen senior atletiekklubs buite Bloemfontein bestaan nie … en dat omtrent 73% van alle na-skoolse atlete uit die Kovsie Atletiekklub kom, is hierdie syfers verstaanbaar: Een sentrum met een oorheersende atletiekklub in ‘n provinsie kan nooit werklik ‘n verskil in die SA konteks maak nie!

Dus rus die ontwikkeling van Atletiek by uitstek op die skouers van die Vrystaatse skole en hul onderwysers!!! As ons in ag neem dat sekere vakbonde, wat aktief in die grootste groep skole is, nie buitemuurse aktiwiteite deur hul lede aanmoedig nie, beteken dit dat slegs ‘n klein presentasie Vrystaatse skole die grootste las moet dra!!! Gelukkig (vir die transformasie van Atletiek) het hierdie skole al ‘n beduidende aantal swart leerders in hul sportgeledere!

…en nou die skrikwekkendste: In die 2016 Vrystaat Skolespan was daar slegs 13 [uit 72 swart atlete] atlete wat uit township-skole gekom het – slegs 5 meisies en 8 seuns! Dus het 82% van die swart atlete uit voorheen Model C-skole gekom!

Om nou terug te kom na die politieke besluit: as townships slegs 18% swart atlete bydra, is daar geen manier dat Atletiek hul transformasie-teikens gou gaan bereik nie! Afgesien dat die genoemde vakbonde se beleid veroorsaak dat township-skole geen atletiekafrigters of -organiseerders het nie, is die groot probleem dat geen township-skool die spasie of die finansiële vermoë het om sy eie sportgeriewe te ontwikkel nie.

Dieselfde Dept. van Sport, wat die politieke besluit in paragraaf een geneem het, is die Departement wat geen geriewe aan die meerderheid skole in SA kan/wil voorsien nie!